Die volgende Skrifgedeeltes is besonder van toepassing op die hantering van trauma en krisisse. Dit gee ook ‘n beskrywing van die kwaliteit en kenmerke van daardie hoër vlak waarheen die grafiek op pad is na afloop van die trauma:
- Jak 1:2-4
“My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”
- Rom 5:3-4
“Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop.”
- Hebr 12:11
Wanneer ons getugtig word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.”
- 2 Kor 1:3-4
“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig.”
- 1 Pet 1:6-7
“Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.“
- Kl 3:31-33
“Die Here verstoot ’n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ’n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want Sy liefde is groot: dit is teen Sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.”
Die beproewings wat God oor ons pad toelaat, maak nie noodwendig altyd vir ons sin nie. Een probleem is dat ons dikwels daarna kyk vanuit ‘n kort termyn perspektief en dan is dit vir ons moeilik om die breër en groter prentjie raak te sien.
‘n Aspek wat in hierdie verband baie belangrik is, is die feit dat God besig is om deur alles wat met ons gebeur (ook ons fisiese lyding), ons onder andere voor te berei vir die eintlike groot taak hierna. Belangrike Skrifgedeeltes in hierdie verband is die volgende:
1 Kor 6:2: “Of weet julle nie dat die gelowiges oor die wêreld sal oordeel nie?”
Boodskap Vert: “Julle gaan eendag regters oor al die nasies van hierdie wêreld wees… Weet julle nie dat ons oor die engele sal oordeel nie?”
Living Bible: “… ons gaan hulle oordeel en beloon.”
Luk 22:29: “Net soos My Vader ‘n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek ’n koninkryk aan julle, sodat julle in My koninkryk aan my tafel kan eet en drink en op trone kan sit om oor die twaalf stamme van Israel te regeer.”
Openb 2:26: “Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee.”
Boodskap Vert: “Ek sal sulke mense mag gee om oor die lot van al die mense op aarde te besluit… julle sal oor al die mense heers.”
Vir die kind van God lê daar dus ‘n geweldige taak voor, en om hierdie rol uiteindelik te kan vervul, is daar ‘n vormingsproses nodig wat loutering, skoling, toerusting, vorming en voorbereiding impliseer. Om oor nasies en engele te kan oordeel, gaan Goddelike karaktereienskappe en integriteit en onderskeidingsvermoë vereis. Die vormingsproses deur al ons beproewings en ons mislukkings is inderdaad deel van hierdie toerusting en voorbereiding.
Ons is geneig om slegs te fokus op hierdie kortstondige lewe – dit wat eintlik maar ‘n stippeltjie in God se ewigheid is.
Hy sê dat ’n 1000 jaar is vir Hom soos een dag – ‘n lewe van 80jr is dus maar ‘n paar minute op God se kalender, en as Hy dit nodig mag ag om in gedurende hierdie paar minute pyn en lyding oor my pad toe te laat sodat die fyn goud na vore kan kom wat Hy benodig vir die uitvoering van die ewigheidstaak wat voorlê, dan doen Hy dit.
Die Living Bible verwoord iets hiervan baie treffend in 2 Tes 1:5: “God is using your sufferings to make you ready for His Kingdom.” Iets van die noodsaaklikheid om die groter prentjie raak te sien, word ook vir ons beskryf in Pred 11:7-8: “It is a wonderful thing to be alive! If a person lives to be very old, let him rejoice in every day of life, but let him also remember that eternity is far longer and that everything down here is futile in comparison”
