
Ons almal reageer verskillend op verlies en trauma
Wanneer ’n gesin of gemeenskap deur die verlies van ’n geliefde of ’n traumatiese gebeurtenis gaan, is dit belangrik om te onthou dat geen twee mense presies dieselfde reageer nie.
Mense ervaar emosies verskillend, verwerk trauma op verskillende maniere en beweeg ook teen verskillende tempo’s deur die rouproses.
Daarom is dit belangrik om mekaar gedurende hierdie moeilike tyd nie te oordeel nie.
Iemand wat min emosie wys, is nie noodwendig minder hartseer nie. Net so beteken ’n sterk emosionele reaksie nie dat iemand “oorreageer” nie.
Ons moet ook verstaan dat mense in tye van intense spanning en verlies nie altyd hulle beste self kan wees nie. Hartseer, skok, moegheid, frustrasie en onsekerheid kan almal ’n invloed hê op hoe ons met mekaar kommunikeer.
Wees daarom geduldig met mekaar.
Wees sag met mekaar.
Gee mekaar ruimte om op julle eie manier te rou
Kyk na mekaar:
Trauma en verlies kan mense op verskillende maniere beïnvloed. Dit is belangrik om bewus te wees van tekens dat iemand moontlik bykomende mediese of sielkundige ondersteuning nodig het.
Ondersteuning behoort oorweeg te word indien iemand byvoorbeeld:
- aanhoudend nie kan slaap of eet nie;
- sukkel om basiese daaglikse funksies te verrig;
- nie in staat is om normaal te funksioneer nie;
- voortdurend en obsessief oor die traumatiese gebeurtenis dink;
- oorweldig word deur intense of onlogiese vrese;
- sukkel om aan enigiets anders as die trauma te dink;
- toenemend van ander mense onttrek; of
- se emosionele toestand oor tyd merkbaar versleg.
Om professionele hulp te vra, is nie ’n teken van swakheid nie. Dit is ’n verantwoordelike stap wanneer iemand se ondersteuningbehoeftes groter geword het as wat familie en vriende alleen kan hanteer.
Wees eerlik en sensitief met kinders:
Kinders ervaar verlies en trauma anders as volwassenes. Hulle moet die waarheid kan verstaan, maar dit moet op ’n ouderdomsgepaste en sensitiewe manier aan hulle verduidelik word.
Moenie kinders onnodig blootstel aan traumatiese besonderhede van wat gebeur het nie. Wanneer volwassenes die gebeurtenis telkens in detail voor kinders bespreek, kan dit hulle blootstelling aan die trauma onnodig verhoog.
Dit beteken egter nie dat daar vir kinders gelieg moet word nie.
Wees eerlik, maar wees ouderdomsgepas:
Onthou dat kinders dikwels baie meer hoor en waarneem as wat volwassenes besef. Hulle kan:
- volwassenes se spanning aanvoel;
- gesprekke hoor wat nie spesifiek aan hulle gerig is nie;
- vrae hê wat hulle nie dadelik vra nie;
- hulle eie gevolgtrekkings maak uit wat hulle sien en hoor.
Dit is daarom belangrik om nie net te fokus op wat aan kinders gesê word nie, maar ook op die emosionele atmosfeer waarin hulle dit beleef.
Gee almal die geleentheid om vrae te vra:
Kinders kan soms dieselfde vraag herhaaldelik vra:
“Is hy regtig dood?”
“Kom hy terug?”
“Waar is sy nou?”
Moenie ongeduldig raak wanneer ’n kind dieselfde vraag oor en oor vra nie.
Herhaling kan deel wees van die manier waarop ’n kind skokkende en pynlike inligting probeer verstaan en internaliseer.
Die kind probeer dalk seker maak dat wat hy of sy gehoor het, werklik waar is. Hulle mag ook besonderhede gehoor het wat hulle verwar of bang gemaak het.
Gee hulle daarom herhaaldelik die geleentheid om:
te vra → te luister → te verstaan → weer te vra → te verwerk.
Dieselfde beginsel kan ook vir volwassenes geld. Mense het soms tyd nodig voordat hulle in staat is om vrae te vra of sekere aspekte van die gebeurtenis te verwerk.
Nie almal kan maklik oor hulle emosies praat nie:
Nie elke persoon verwerk emosies deur daaroor te praat nie.
Kinders kan byvoorbeeld:
- teken;
- na ’n storie luister;
- speel;
- ’n brief of kaartjie maak;
- iets prakties doen;
- help om ’n herinneringspakkie saam te stel.
Hierdie aktiwiteite kan vir ’n kind ’n veilige manier bied om gevoelens uit te druk wat hulle nog nie in woorde kan omskep nie.
Dieselfde geld vir volwassenes.
Sommige mense verwerk verlies deur:
- musiek te luister;
- te skryf;
- te stap of te oefen;
- iets diensbaar vir ander te doen;
- tyd in die natuur deur te bring;
- stil te word;
- te bid;
- of eenvoudig in die teenwoordigheid van ander te wees sonder om baie te praat.
Daar is nie net één manier om te rou nie.
Wat belangrik is, is dat mense veilige en gesonde maniere kry om hulle emosies te verwerk.
Skep doelbewus geleenthede om saam te wees:
In tye van verlies is dit waardevol om intensioneel geleenthede te skep waar familie en vriende saam kan wees.
Dit hoef nie altyd ’n formele gesprek te wees nie.
Dit kan eenvoudig wees om:
- saam koffie te drink;
- saam te eet;
- herinneringe te deel;
- na foto’s te kyk;
- saam te bid;
- stil saam te sit;
- ’n wandeling te neem;
- of bloot teenwoordig te wees.
Wanneer mense saam gesels en nadink, kan dit hulle help om emosies en ervarings geleidelik te verwoord en te verwerk.
Dit kan ook geleenthede skep om te ontdek en te onthou:
God is ook hier.
God is naby.
God dra ons, selfs wanneer ons nie alles verstaan nie.
Vermy clichés en oppervlakkige verduidelikings:
Wanneer iemand diep seer het, kan goedbedoelde woorde soms meer skade as troos veroorsaak.
Vermy vinnige of oppervlakkige verduidelikings soos:
“God het ’n plan hiermee.”
of:
“God pluk sy mooiste blommetjies.”
Hoewel sulke woorde soms goed bedoel word, kan dit vir iemand wat diep rou, voel asof sy of haar pyn te vinnig probeer verklaar of beëindig word.
Ons hoef nie altyd die grootste vrae van die lewe en dood te probeer beantwoord nie.
Soms is dit genoeg om te sê:
“Ek weet nie hoekom dit gebeur het nie, maar ek is hier by jou.”
En vanuit ’n geloofsperspektief:
“Ons verstaan nie alles nie, maar ons glo dat God by ons is en ons sal dra.”
Daar is ’n groot verskil tussen om iemand se pyn te probeer verduidelik en om iemand in sy of haar pyn te begelei.
Bid – selfs wanneer daar nie woorde is nie:
Daar sal tye wees wanneer ons eenvoudig nie weet wat om te sê of te bid nie.
Bid tog.
Ons kan ook vir mekaar bid wanneer iemand self nie die krag het om te bid nie.
Ons geloof vereis nie dat ons moet voorgee dat alles goed is nie. Ons kan eerlik met God wees oor ons:
- hartseer;
- vrae;
- woede;
- verwarring;
- vrees;
- twyfel;
- verlange.
Ons verstaan nie altyd waarom sekere dinge gebeur nie. Dit beteken egter nie dat ons ons emosies vir God moet wegsteek nie.
Psalm 34:19
“Die Here is naby die gebrokenes van hart.”
Wanneer woorde ontbreek, kan ’n eenvoudige gebed genoeg wees:
“Here, ek verstaan nie. Ek is seer. Ek weet nie wat om te sê nie. Maar wees asseblief naby ons en dra ons deur hierdie tyd.”
Doen iets simbolies saam:
’n Simboliese handeling kan ’n besondere betekenis hê wanneer ’n gesin of gemeenskap deur verlies gaan.
Dit kan byvoorbeeld wees om:
’n Boom te plant
Klippe saam te pak
’n Kers aan te steek
’n Skrifgedeelte saam te lees
’n Gedenkplek te skep
Blomme neer te lê
Saam te bid
Saam ’n besondere plek te besoek
Sulke handelinge kan mense help om die geliefde te onthou, die verlies te erken en ruimte vir herinnering te skep.
Dit kan ook ’n sigbare herinnering word dat die persoon se lewe betekenis gehad het en dat die liefde en herinneringe nie eenvoudig verdwyn nie.
Koördineer praktiese ondersteuning:
Na ’n traumatiese gebeurtenis of verlies wil baie mense graag help. Soms kan daar egter soveel hulp op een slag wees dat die familie oorweldig voel.
Praktiese ondersteuning behoort daarom georganiseerd, sensitief en op die regte tyd aangebied te word.
Dink byvoorbeeld aan:
- maaltye;
- vervoer;
- kindersorg;
- huishoudelike hulp;
- administratiewe ondersteuning;
- emosionele ondersteuning;
- pastorale ondersteuning;
- opvolgbesoeke.
Langtermyn-ondersteuning kan besonder waardevol wees.
Die eerste dae en weke na ’n verlies kan baie mense om die familie wees. Daarna keer die meeste mense na hulle normale roetines terug — terwyl die familie steeds besig is om te rou.
Daarom kan volgehoue ondersteuning oor tyd dikwels belangriker wees as om alle hulp binne die eerste paar dae te probeer bied.
’n Boodskap van HVR Trauma & Pastorale Berading:
Rou het nie ’n vaste tydlyn nie.
Daar is nie ’n korrekte manier waarop elke persoon moet huil, praat, onthou of herstel nie.
Ons kan mekaar se hande vashou sonder om mekaar se pyn te probeer regmaak.
Ons kan luister sonder om onmiddellike antwoorde te gee.
Ons kan bid wanneer daar geen woorde is nie.
Ons kan stil wees wanneer stilte nodig is.
En ons kan mekaar herinner:
“Jy hoef nie alleen deur hierdie tyd te gaan nie.”
