Bepalings en Voorwaardes

HVR TRAUMA & PASTORALE BERADING

BEPALINGS, VOORWAARDES EN KLIËNTOESTEMMING

1. AARD VAN DIE PRAKTYK EN PROFESSIONELE REGISTRASIE

HVR Trauma & Pastorale Berading is ’n uitsluitlik kontantpraktyk. HVR Trauma & Pastorale Berading is nie by enige mediese fonds geregistreer nie en dienste kan daarom nie direk van ’n mediese fonds geëis of gefaktureer word nie.

HVR Trauma & Pastorale Berading is nie by die HPCSA (Health Professions Council of South Africa) geregistreer nie en bied nie dienste as ’n HPCSA-geregistreerde sielkundige, mediese praktisyn of ander HPCSA-gereguleerde gesondheidspraktisyn aan nie.

HVR Trauma & Pastorale Berading bied Christelike Pastorale Berading en Trauma-geïnformeerde ondersteuning binne die toepaslike professionele en etiese raamwerk van die berader se registrasie en kwalifikasies.

Die kliënt bevestig hiermee dat hy/sy die aard van die diens verstaan en aanvaar.

Die kliënt erken en neem kennis dat die berader by die Council for Pastoral and Spiritual Counsellors (CPSC) geregistreer/geakkrediteer is en nie by die HPCSA nie.

Waar ’n kliënt se behoeftes buite die toepaslike pastorale beradingsraamwerk val, kan ’n verwysing na ’n toepaslik gekwalifiseerde en geregistreerde professionele persoon aanbeveel word.


2. KONTANTPRAKTYK EN VOORAFBETALING

HVR Trauma & Pastorale Berading is ’n kontantpraktyk. Die kliënt is volledig verantwoordelik vir betaling van alle beradingsdienste.

Betaling moet ten volle ontvang en bevestig wees voordat enige Trauma & Pastorale Beradingsessie sal begin.

’n Bespreking bevestig slegs ’n sessie wanneer die toepaslike betaling ontvang is.

Geen beradingsessie sal begin voordat die vereiste betaling ontvang is nie.

Die kliënt is verantwoordelik om seker te maak dat betaling betyds geskied en dat bewys van betaling, waar van toepassing, aan HVR Trauma & Pastorale Berading voorsien word.


3. GEEN MEDIESE FONDS-REGISTRASIE

HVR Trauma & Pastorale Berading is nie by ’n mediese fonds geregistreer nie.

Die kliënt kan dus nie van HVR Trauma & Pastorale Berading verwag om ’n mediese fonds namens die kliënt te faktureer of betaling van ’n mediese fonds te waarborg nie.

Die kliënt aanvaar volle verantwoordelikheid vir die betaling van die sessie, ongeag of die kliënt van mening is dat sy/haar mediese fonds moontlik enige vorm van vergoeding sou kon bied.

Indien ’n kliënt enige moontlike terugbetaling van ’n mediese fonds wil ondersoek, is dit die kliënt se eie verantwoordelikheid om vooraf direk met die betrokke mediese fonds te bevestig of enige vergoeding moontlik is.


4. EGSKEIDING, ONDERHOUD OF BETALING DEUR ’N DERDE PARTY

Indien ’n voormalige gade, gade, ouer, werkgewer, familie- of ander derde party volgens ’n ooreenkoms, hofbevel of onderlinge reëling verantwoordelik is vir die betaling van beradingsdienste, bly dit die kliënt se verantwoordelikheid om die finansiële reëling

Voor die aanvang van die beradingsintervensie met die betrokke persoon te finaliseer.

HVR Trauma & Pastorale Berading aanvaar geen verantwoordelikheid om betalingsgeskille tussen ’n kliënt en ’n eks-gade, gade of enige ander derde party te bestuur of op te los nie.

Die kliënt moet dus seker maak dat:

  • die verantwoordelike persoon bewus is van die koste;
  • die betalingsreëling vooraf bevestig is;
  • betaling betyds ontvang word; en
  • daar geen onsekerheid bestaan oor wie verantwoordelik is vir betaling nie.

Die beradingsessie sal slegs plaasvind nadat betaling ingevolge die praktyk se betalingsvereistes ontvang en bevestig is.


5. AARD VAN PASTORALE BERADING

Die kliënt verstaan en aanvaar dat HVR Trauma & Pastorale Berading hoofsaaklik ’n Christelike pastorale & trauma beradingsdiens bied.

Pastorale berading kan ondersteuning bied rondom onder andere:

  • Trauma;
  • Rou en verlies;
  • Verhoudingsuitdagings;
  • Lewenskrisisse;
  • Emosionele ondersteuning;
  • Geestelike uitdagings;
  • Vergifnis;
  • Persoonlike ontwikkeling;
  • Gesins- en lewenskwessies; en
  • Ander toepaslike pastorale aangeleenthede.

Pastorale berading moet nie outomaties verstaan word as ’n vervanging vir mediese, psigiatriese of kliniese sielkundige behandeling nie.

Waar ’n situasie ’n ander vorm van professionele intervensie vereis, kan toepaslike verwysing aanbeveel word.


6. VERSLAE EN REGSAANGELEENTHEDE

HVR Trauma & Pastorale Berading verskaf nie verslae vir regsdoeleindes, litigasie, egskeidingsgedinge, kinderhofsake, voogdyskapsgeskille, onderhoudsgeskille of enige ander regsaangeleentheid nie.

Die berader sal nie as ’n deskundige getuie of forensiese sielkundige optree nie, tensy daar ’n aparte professionele en wettige grondslag daarvoor bestaan.

Geen verslag moet deur ’n kliënt as ’n kliniese, forensiese of regsverslag geïnterpreteer word nie.

Waar toepaslik en binne die professionele raamwerk, kan relevante inligting of ’n verslag aan ’n toepaslik gekwalifiseerde mediese praktisyn voorsien word, onderhewig aan toepaslike toestemming en vertroulikheidsvereistes.


7. KANSELLASIEBELEID

Die kliënt stem in om ten minste 24 uur vooraf kennis te gee indien hy/sy nie ’n reeds bespreekte sessie kan bywoon nie.

Kansellasie 24 uur of meer voor die sessie

Vir sessies wat reeds bespreek en betaal is:

’n Kansellasie wat 24 uur of meer voor die geskeduleerde sessie ontvang word, kan vir ’n terugbetaling kwalifiseer.

Kansellasie minder as 24 uur voor die sessie

Geen terugbetaling sal gemaak word indien ’n kansellasieversoek minder as 24 uur voor die geskeduleerde sessie ontvang word nie.

Die kliënt aanvaar verder dat die volle sessiefooi gehef kan word indien hy/sy:

  • minder as 24 uur voor die sessie kanselleer;
  • nie die sessie bywoon nie; of
  • nie betyds kennis gee dat hy/sy nie die sessie kan bywoon nie.

Hierdie beleid is nodig omdat ’n bespreekte sessietyd spesifiek vir die kliënt gereserveer word.


8. Vertoulikheid

HVR Trauma & Pastorale Berading respekteer die vertroulikheid en privaatheid van kliënte.

Inligting wat tydens berading gedeel word, word as vertroulik hanteer, onderhewig aan toepaslike wetlike, etiese en veiligheidsverpligtinge.

Die kliënt neem kennis dat daar bepaalde omstandighede kan wees waarin vertroulikheid wetlik of professioneel beperk kan word, byvoorbeeld waar daar ’n ernstige veiligheidsrisiko of ’n toepaslike wetlike verpligting bestaan.


9. OPNAME VAN BERADINGSSESSIES

Geen beradingsessie behoort opgeneem te word sonder dat die kliënt vooraf ingelig is oor die opname en toepaslike toestemming daarvoor verleen het nie.

Waar ’n sessie met die nodige toestemming opgeneem word, kan ’n sigbaar geïnstalleerde kamera of ander toepaslike opname- toestel gebruik word.

Die doel van enige opname moet vooraf aan die kliënt verduidelik word.

Opnames moet op ’n veilige en toepaslike wyse hanteer word en slegs vir die verklaarde doel gebruik word, onderhewig aan toepaslike privaatheids- en databeskermingsvereistes.

Geen opname, beeldmateriaal of ander persoonlike inligting sal doelbewus aan ’n derde party bekend gemaak word sonder toepaslike toestemming of ’n wetlike grondslag nie.

Waar wetgewing, ’n hofbevel, ’n geldige wetstoepassingsversoek of ander toepaslike regsverpligting dit vereis, kan die toepaslike inligting egter aan die bevoegde owerheid beskikbaar gestel word.


10. KLIËNT SE VERANTWOORDELIKHEID

Die kliënt onderneem om:

  1. Akkurate inligting aan die berader te verskaf;
  2. Die aard van pastorale berading te verstaan;
  3. Betaling betyds te doen;
  4. Die 24-uur-kansellasiebeleid na te kom;
  5. ’n geskikte en privaat ruimte vir aanlyn sessies te gebruik;
  6. Die berader met respek te behandel;
  7. Relevante veranderinge in omstandighede wat die beradingsproses kan beïnvloed, te kommunikeer; en
  8. Professionele verwysings te oorweeg wanneer verdere of alternatiewe professionele hulp aanbeveel word.

11. VRYWARING EN BEPERKING VAN AANSPREEKLIKHEID

Die kliënt erken dat pastorale berading ’n ondersteunende proses is en dat individuele uitkomste kan verskil.

Die kliënt vrywaar HVR Trauma & Pastorale Berading en, waar toepaslik, sy diensverskaffers, subkontrakteurs, vennote, lede en werknemers teen eise wat uit die normale lewering van die dienste mag ontstaan, behalwe waar sodanige uitsluiting of beperking ingevolge toepaslike wetgewing nie toegelaat word nie.

Geen bepaling hierin is bedoel om enige regte van ’n verbruiker wat ingevolge toepaslike Suid-Afrikaanse wetgewing nie wettiglik uitgesluit of beperk kan word nie, weg te neem nie.

Hierdie bepalings is onderhewig aan enige verweer, beperking of verpligting wat ingevolge toepaslike Suid-Afrikaanse wetgewing, insluitend die Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008, van toepassing is.


12. KLIËNT SE ERKENNING EN TOESTEMMING

Deur ’n Trauma & Pastorale Beradingsessie te bespreek en betaling te maak, bevestig die kliënt dat hy/sy:

☐ Verstaan dat HVR Trauma & Pastorale Berading ’n kontantpraktyk is.

☐ Verstaan dat HVR Trauma & Pastorale Berading nie by ’n mediese fonds geregistreer is nie.

☐ Verstaan dat volle betaling vooraf vereis word voordat ’n sessie begin.

☐ Verstaan dat HVR Trauma & Pastorale Berading nie by die HPCSA geregistreer is nie.

☐ Verstaan dat die berader by CPSC en ACRP geregistreer/in Good Standing is.

☐ Verstaan dat die diens Christelike Pastorale Berading en trauma-geïnformeerde ondersteuning behels.

☐ Verstaan dat pastorale berading nie dieselfde is as kliniese sielkunde, psigiatriese behandeling of mediese behandeling nie.

☐ Verstaan dat geen regs-, forensiese of litigasieverslag voorsien word nie.

☐ Verstaan en aanvaar die 24-uur-kansellasiebeleid.

☐ Verstaan dat enige derdeparty-betalingsreëling vooraf deur die kliënt gereël moet word.

☐ Verstaan die bepalings rakende vertroulikheid en die moontlike beperkings daarvan.

☐ Verstaan dat enige opname slegs met toepaslike voorafgaande kennisgewing en toestemming sal geskied.


BELANGRIKE KENNISGEWING

HVR TRAUMA & PASTORALE BERADING IS ’N KONTANTPRAKTYK.

HVR TRAUMA & PASTORALE BERADING IS NIE BY ’N MEDIESE FONDS GEREGISTREER NIE.

HVR TRAUMA & PASTORALE BERADING IS NIE BY DIE HPCSA GEREGISTREER NIE.

VOLLE BETALING MOET ONTVANG EN BEVESTIG WEES VOORDAT ENIGE TRAUMA & PASTORALE BERADINGSSESSIE SAL BEGIN.

Deur die sessie te bespreek en betaling te maak, bevestig die kliënt dat hy/sy hierdie bepalings gelees, verstaan en aanvaar het.

HVR Trauma & Pastorale Berading


Christelike Pastorale Berading • Trauma-geïnformeerde Ondersteuning • Hoop • Herstel