

Baie Dankie Maroela Media & Leonie-Mari Bezuidenhout om vir Oom Christo HOOP te bring!!
Oom Christo Joubert


Trauma en genesing:
Effektiewe terapie; kinderreaksies
https://pressreader.com/article/281672555915036
- Polokwane Observer
- 19 Jun 2025
- Maretha Swanepoel

Trauma is iets wat elkeen van ons in een of ander stadium in ons lewens ervaar. Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is trauma ‘n blywende geestelike steurnis wat veroorsaak word deur intense emosionele of fisiese spanning of besering.
Die oorsake van trauma is uiteenlopend.
Dit kan wissel van ‘n motorongeluk tot die verlies van ‘n geliefde.
Hannes van Rensburg, ‘n traumaberader wat self verskeie traumatiese ervarings deurgemaak het, weet uit persoonlike ondervinding hoe belangrik professionele hulp kan wees. Ná sy eie pad deur trauma het hy die waarde van berading eerstehands besef.
Volgens Hannes werk trauma-terapie hoofsaaklik op vier maniere:
• Kognitiewe herstrukturering: Hierdie tegniek help pasiënte om verwronge of negatiewe gedagtes te identifiseer en dit met meer realistiese en gebalanseerde oortuigings te vervang. Dit bevorder genesing deur die emosionele impak van die trauma te verminder.
• Blootstellingsterapie: Pasiënte word op ‘n veilige, gestruktureerde manier blootgestel aan traumaverwante herinneringe. Dit help hulle om hierdie ervarings te verwerk en hul angs of vrees mettertyd te verminder.
• Somatiese ervaring: Trauma word dikwels fisies in die liggaam gestoor. Hierdie benadering fokus op die bewustheid van liggaamlike sensasies om opgeboude spanning vry te stel en die liggaam se natuurlike balans te herstel deur middel van fisieke oefening en bewustheid.
• Narratiewe terapie: Pasiënte word aangemoedig om hul lewensverhaal, insluitend traumatiese ervarings, opnuut te vertel. Hierdie proses help hulle om betekenis en perspektief te vind binne hul eie lewenskonteks.
Van Rensburg verduidelik dat elke pasiënt eers deeglik geëvalueer word voordat ‘n persoonlike behandelingsplan opgestel word. Die aantal sessies en die gereeldheid daarvan wissel volgens die individu se behoefte. Vordering word voortdurend gemonitor en aangepas waar nodig.
Trauma kom nie net by volwassenes voor nie, vertel hy, selfs voorskoolse kinders kan trauma ervaar. Hier is ‘n paar algemene tekens volgens ouderdomsgroepe: Voorskoolse kinders: Skeidingsangs. Gewigsverlies.
Slegte eetgewoontes. Gereelde nagmerries. Gereelde huilbuie. Laerskoolkinders: Konsentrasieprobleme. Angs, vrees of skuldgevoelens.
Slaapprobleme.
Weiering om skool toe te gaan.
Swakker akademiese prestasie.
Onthouding van sosiale of prettige aktiwiteite.
Trauma beïnvloed mense van alle ouderdomme en agtergronde. Die pad na genesing is uniek vir elke individu, maar met die regte benadering is herstel moontlik, sê Hannes. “Deur trauma te verstaan en vroegtydig te herken, kan ons onsself en ons kinders beter ondersteun.”
Article Name:Trauma en genesing:
Publication:Polokwane Observer
Section:Front Page
Author:Maretha Swanepoel